
Posted by K.M. (SA) on 6/10/2009, 15:34:54
Meer as die helfte van Duitsers staan agter hul waarskynlike nuwe minister van buitelandse sake wat verlede week geweier het om ’n BBC-verslaggewer se vraag op ’n mediakonferensie in Engels te beantwoord.
In sekere kringe is mnr. Guido Westerwelle skerp gekritiseer. Volgens die nuustydskrif Focus was Westerwelle volgens baie reaksies “te arrogant”, en ook die Britse dagblad The Independent het dit verontwaardig beskryf as ’n “voorsmakie van ’n nuwe Teutoniese selfvertroue in internasionale sake”.
Maar volgens ’n meningspeiling staan 54% van die Duitsers agter hom.
In ’n onderhoud met die weekblad Bild am Sonntag het Westerwelle aangekondig hy sal as minister van buitelandse sake by alle amptelike geleenthede in Duitsland net Duits praat. Daarby wil hy hom daarvoor beywer dat Duitsland in Europa nie tot die vierde of vyfde taal afsak nie. “Die Duitse taal is wonderskoon en ek sien geen rede hoekom ons ons vir ons taal moet skaam nie,” het hy gesê.
Op Die Welt se webwerf het die joernalis Bettina Röhl ook ’n skerp satiriese aanval op die BBC gedoen omdat dié arrogant genoeg was om ’n verslaggewer na Duitsland te stuur wat nie Duits magtig is nie.
Die nuwe koalisiegenote, die Christen-Demokrate en Liberale, het albei onlangs die voorneme uitgespreek om Duits in die grondwet te veranker. Dit is nie nou die geval nie. Nietemin doen die Duitsers baie om die regte van inheemse minderheidstale te beskerm.
In gebiede waar dié tale gepraat word, sien ’n mens onder meer dikwels tweetalige padtekens.
http://www.beeld.com
Responses: